Beste Johan,
Ek was op sy beste redelik skepties toe ek hoor my kleinseun, Johan Swart, kom vanjaar na julle toe. Of dit die regte ding sou wees vir Johan, of die kursus op standaard sou wees, of julle ‘n klomp jongmense so afgesonderd besig genoeg sou kon hou en ander vrae het vinnig by my opgekom. My besoek aan julle verlede jaar in September en ons ontmoeting met jou het baie vrae beantwoord, maar ek wou eers sien om te glo.
Wat ‘n totale aangename verassing was dit toe nie. Ek is mateloos beindruk met hoe julle Johan gemotiveer en uitgedaag het, wat julle hom laat regkry het, hoeveel inhoud die kursus gehad het en hoeveel die seun kon man word in minder as ‘n jaar. Ek het jul funksie en waarde as opvoedkundige instansie totaal onderskat.
Op die oomblik werk Johan 15 uur ‘n dag 7 dae van die week vir die eerste keer in sy lewe en geniet dit, danksy die basis wat julle gelê het. Interessant vir my is dat hy vanself bly leer afgesien van uit die ervaring.
Iemand met baie binne-inligting en kennis sou seker ‘n interessante opvoedkundige dissertasie oor julle kollege kon skryf. Moet tog nie dat die geskiedenis van julle plek ongeskryf bly nie. My ervaring as vise-rektor by die RAU se eerste 10 vestigingsjare, gee my net so ‘n spatseltjie van ‘n aanvoeling vir wat die natuurkollege van jou en jou mense verg – amper sê ek daar in die middel van nêrens.
Baie hartlik geluk met wat julle al daar bereik het en nog steeds doen. Jy behoort baie bevrediging te put uit jou “studententresultate”. Alle goeie opvoeders ervaar dit seker wanneer hulle studente groei en suksesvol is en dan nog vol lof vir hul leermeesters is . Maar vir julle mèèr nog. Die feit dat die die hele infrastruktuur, tasbaar en intellektueel, julle eie handewerk is en uit ‘n privaatinisiatief spruit, spreek boekdele.
Nou hoor ek dat jou gesondheid ongelukkig ‘n ernstige terugslag ondervind het. Ek is baie jammer daaroor. Baie sterkte vir jou en jou mense vir elke dag. Mag die Vader sy helpende hand by julle hou en julle seën met sy genade.
Baie dankie weereens wat julle vir my kleinseun in sy spesiale omstandighede gedoen en beteken het. Diè jaar is sekerlik ‘n baie belangrike ontwikkelingsbousteen vir sy pad vorentoe.
Vriendelike groete
Ritzema de la Bat